Abstract
Die 0–10 mm laag van twee proefpersele van 'n vertiese grond waarop graansorghum sonder enige bewerking met behoud van 'n stoppeldeklaag (GBS) en met die Stoppel verwyder (GBG), verbou is, is gemonster. Grond- koolstofinhoud was 1,82% en 1,15% onderskeidelik. Massas (120 g) van < 2 mm- en < 8 mm-fraksies is versadig en gedreineer by 'n reeks matrikspotensiale (ψm) vanaf –5 tot –40 kPa. Na elke ewewigsinstelling is die monsters in 'n volumeter geplaas en aan 'n reeks (5–1600) vertikale slae onderwerp waarna die volumes bepaal is. Bokant 1000 slae het monstervolumes konstant gebly. Die < 8 mm-fraksie van GBS-monsters het groter finale volumes (dit wil sê minder aggregaatverval) gelewer as die < 2 mm-fraksie. By GBG was daar min of geen verskille tussen volumes nie. Dit dui op stabiele aggregaatvorming in die 2–8 mm-gebied vir die GBS-behandeling. Verder het GBS groter finale monstervolumes bereik as GBG. Met behulp van die volumeter kon dus aangetoon word dat die aanwesigheid van organiese materiaal aggregaatvorming en verhoogde -stabiliteit teweeggebring het. Die grootste volumeverskille is by ψm = −10 kPa verkry. Die gevolgtrekking is gemaak dat aggregate die grootste mate van stabiliteit teen disintegrasie by –10 kPa getoon het. Die aanwesigheid van stabiele aggregate in die < 8 mm-fraksie van GBS het by 'n gegewe ψm hoër grondwaterinhoude gegee as GBG. Vir die < 2 mm-fraksies was daar feitlik geen verskille in waterinhoud tussen GBS en GBG nie.